Slim skaakspeler maak wenskuiwe
Skaak is meer as net ‘n spel. Dit is ‘n komplekse sport waar die lyn tussen wen en verloor in een skuif sit. Vir die jong Proteaspeler, Luan Roos is dit ‘n “wetenskap, kuns en filosofie” waarin hy uitmuntend presteer vandat hy sy eerste skaakmat gekry het. Dié leerling van Hoërskool Ferdinand Postma het vanjaar…
Skaak is meer as net ‘n spel. Dit is ‘n komplekse sport waar die lyn tussen wen en verloor in een skuif sit.
Vir die jong Proteaspeler, Luan Roos is dit ‘n “wetenskap, kuns en filosofie” waarin hy uitmuntend presteer vandat hy sy eerste skaakmat gekry het.
Dié leerling van Hoërskool Ferdinand Postma het vanjaar weer oudergewoonte uitgeblink en is as 17-jarige in die o.18 ouderdomskategorie die enigste Potchefstromer wat die SA-span vanjaar in drie van die gesogste internasionale toernooie verteenwoordig het.
Dit het Luan reggekry toe hy tydens vanjaar se geslote toernooi as een van die eerste drie wenners uit die stryd getree het.
“Dit is baie harde werk om die Proteaspan te haal. Jy moet eers na die geslote toernooi genooi word en dan in die top drie in jou ouderdomsgroep eindig,” verduidelik Luan die moeilikheidsgraad.
Die internasionale toernooie waaraan Luan vanjaar  deelgeneem het, sluit die Statebondspele in Sri Lanka waar hy ‘n vierde plek behaal het, die Afrika Jeugspele in Port Elizabeth waar hy ‘n sesde plek behaal het en die Wêreld Jeug kampioenskappe in Siberië, Rusland in. Die ervaring in Rusland wat as die vaderland van skaak beskou word, was veral vir Luan ‘n unieke en kosbare ervaring.
“Rusland is ver voor ons land met skaak, daar is dit omtrent so groot soos rugby by ons. Dit is ongelooflik hoe ernstig hulle daar is oor skaak,” beklemtoon hy.
2010 was ‘n briljante jaar vir Luan toe hy as SA se beste o.12 skaakspeler gekroon is. Hy is toe Brasilië toe waar hy die meeste punte in die SA-span behaal het. Luan se skaakkennis is ook verstommend en hy glo dat ‘n goeie skaakspeler openinge kan raaksien om ‘n opponent te kan vaspen met strategiese visie.
“Jou skaakstukke moet meer aktief wees as jou opponent s’n. ‘n Mens kry ‘n aanvoeling vir watter skuiwe sekere spelers maak, veral as julle al teen mekaar gespeel het,” vertel Luan, wat gereeld skaak op die internet teen ander spelers oefen om slaggereed vir toernooie te wees.
Luan sit omtrent 2-3 ure per dag voor toernooie in waar hy skaak oefen en tydens ‘n toernooi word die fokus omtrent totaal en al op die wit en swart blokke geskuif. Luan beskou die o.16 Olimpiade in Gyor, Hongarye as een van sy grootste oomblikke toe hy op bord 2 vir Suid-Afrika in 2014 verteenwoordig het. “Dit is nogal lekker om na verskillende lande te gaan en jou land te kan verteenwoordig. ‘n Mens leer regtig so baie van ander skaakspelers,” vertel hy.
En as hy ooit teen enige skaakspeler in die wêreld kon speel?
“Definitief sou ek teen Mikhail Tal van Latvië wil speel, maar hy is al oorlede, so tans sou ek sê Hikaru Nakamura.”

Luan Roos is hou Potch se naam hoog in skaak.